Message from the Vice-Chancellor

science-deanMESSAGE FROM THE VICE-CHANCELLOR

Dr Max Price

universities in Africa must stand together. In particular, we need to develop the capability on our continent to take on the research needed to solve Africa’s problems.

Vyf jaar gelede het ons dit ons ten doel gestel om met ons navorsing ’n groter impak te maak en groter betrokkenheid te bereik. Hierdie Navorsingsverslag getuig van die verskeidenheid wyses waarop ons navorsers daarin slaag om globale – en spesifiek Afrika-verwante – probleme, van gesondheid tot die klimaat, op te los. Dit terwyl ons betrokke bly by die soort kwessies wat relevant is tot ons gemeenskap. Ons werk om navorsingsgrense te verskuif en ontwikkel wiskundige algoritmes en sagteware om vuurpyle te lanseer en Stephen Hawking openlik uit te daag .

Die globalisasie van akademiese navorsing is ’n onomkeerbare tendens. ’n Onlangse verslag deur die Amerikaanse National Science Foundation getiteld “Science and Engineering Indicators 2014” toon dat ’n kwart van die wetenskaplike referate wat in 2012 gepubliseer is, internasionale medeskrywers gehad het – in die Verenigde Koninkryk styg dié syfer tot meer as die helfte. In hierdie globale maelstrom raak die stem van die globale Suide in die algemeen, en Afrika in besonder, amper verlore. Dit is noodsaaklik dat Afrika sy plek in die globale ekonomie inneem sodat sy stem gehoor kan word.

Om dit reg te kry, moet universiteite in Afrika saamstaan. In besonder moet ons die vermoë ontwikkel om op ons kontinent die soort navorsing te onderneem wat nodig is om Afrika se probleme op te los. Dit vereis dat ons ’n nuwe generasie akademici oplei, aan hulle aanloklike loopbaanmoontlikhede bied en die infrastruktuur skep en onderhou om aan die navorsingsbehoeftes van die 21ste eeu te voldoen.

Die Universiteit van Kaapstad is reeds op uiteenlopende maniere besig om hierdie doelstellings te bereik. Een voorbeeld hiervan is die Carnegie-projek: Growing the Next Generation of Academics for Africa is ’n uitgebreide program aan vier universiteite in Afrika wat ondersteuning en befondsing aan nagraadse studente en nadoktorale studiegenote verskaf. Verskeie van ons groot navorsingstoekennings het ’n ingeboude vereiste dat kapasiteit in Afrika ontwikkel moet word deur die befondsing wat aan die Universiteit van Kaapstad gegee word.

Hierdie toekennings help ons ook om belangrike infrastruktuur en tegnologiese vermoëns te ontwikkel sodat grensverskuiwende navorsing kan plaasvind. Dit is veral waar ten opsigte van die groeiende behoefte om inligting uit data intensiewe navorsing te onttrek in velde so uiteenlopend soos die astronomie en genomika. Die Universiteit van Kaapstad is vasbeslote om aan die voorpunt te bly om hierdie kapasiteit uit te bou en te befonds: As ons dit nie doen nie, sal ons nie met die groot name kan saampraat nie.

Daar kan nie genoeg klem gelê word op die noodsaaklikheid om navorsingskapasiteit in Afrika te uit te bou nie. Afrika word deur uitdagings van globale aard (soos klimaatsverandering), maar ook deur plaaslike probleme (die hoogste voorkoms van MIV en TB in die wêreld) in die gesig gestaar. Waar dit oor globale uitdagings gaan, moet ons in staat wees om plaaslike en streeksgebonde konteks aan navorsing te gee. Verstedeliking is byvoorbeeld ’n globale tendens, maar die manier waarop dit in Afrika voorkom, verskil heeltemal van hoe dit in die globale Noorde en selfs in ander dele van die ontwikkelende wêreld manifesteer (sien bl.98). Waar ons probleme spesifiek op Afrika betrekking het, moet ons dit op die globale navorsingsagenda plaas en terselfdertyd strategieë ontwikkel om dit self op te los. Hoewel sekelsel-bloedarmoede byvoorbeeld die grootste monogeniese siekte in Afrika is, kry dit min akademiese aandag in die globale Noorde. ’n Groot komponent van die Universiteit van Kaapstad se navorsingsprojek oor sekelsel-anemie is dus om opleiding in genomika aan navorsers van regoor Afrika te verskaf.

Ons moet hierdie patroon volg met baie van ons navorsing. Waar ons die vakkennis en toerusting het, moet ons dit deel. Dit is om hierdie rede dat die Universiteit van Kaapstad tans saam met ander instellings werk om ’n netwerk van navorsingsuniversiteite regoor Afrika op te bou: vername instellings wat sterk staan ten opsigte van navorsing en nagraadse opleiding, wat hul vaardighede en bronne sal deel, navorsing en opleiding sal koördineer en saam sal werk om navorsingsprioriteite te ontwikkel.

Indien ons in Afrika beheer wil neem van ons eie toekoms, moet ons self kennis genereer and sodoende bydra tot die globale kennispoel.